Kursus: Inleiding tot Akwaponika 16 Junie 2018

Kragdag Inleiding tot akwaponika

Leef gesond en maak geld met groente en vis.

Akwaponika is deur die Europese Unie se Wetenskapkomitee aan gewys as een van die top tien tegnologiese ontwikkelings wat die wêreld binne die volgende paar jaar gaan verander (Ten technologies which could change our lives). Van die ander ontwikkelings is voertuie wat hulleself bestuur, virtuele geldeenhede en driedimensionele drukwerk.

‘n Eendagkursus oor die beginsels van akwaponika en hoe dit moontlik is dat visse en groente in ‘n geslote, natuurlike stelsel geteel en verbou kan word, word op 16 Junie 2018 by Diamantvallei, die tuiste van KragDag, aangebied.

Die kursus word in Afrikaans aangebied deur Colin en Annemarie Bremner van Kleinskuur Aquaponics, die grootste akwaponiese stelsel in Suid-Afrika, wat ‘n hanetree van Diamantvallei af ontwikkel word.

Na afloop van die kursus sal jy verstaan hoe al die verskillende dele van ‘n akwaponiese stelsel bymekaar kom om ‘n gebalanseerde ekostelsel te vorm. Die kursus sal van waarde wees vir enige een wat ‘n tuisstelsel wil oprig en ook vir boere en beleggers wat daarin belangstel om ‘n kommersiële stelsel te ontwikkel. Dit is inderdaad moontlik om geld te maak uit akwaponika!

Al die nodige riglyne om weg te spring en faktore wat in ag geneem moet word, insluitend sakebeginsels en bemarking, word verduidelik en daar is ook ‘n terreinbesoek om te sien hoe alles in die praktyk werk.

Dit maak nie saak hoe groot jou stelsel is nie, die wetenskaplike beginsels bly dieselfde.

RSVP:

Hierdie voldag kursus is vir vroeë besprekers, tot 25 Mei 2018, beskikbaar vir slegs R1 200, in plaas van die normale prys van R1 500.